San Diego Padres

Die San Diego Padres (noemname: The Pads, The Friars, Slam Diego Padres of Slam Diego) is 'n Amerikaanse professionele bofbalspan wat gebaseer is in San Diego, Kalifornië. Die span se kleure is Bruin, goud en wit[1][2] Die Padres ding mee in Hoofligabofbal (MLB) as 'n lid van die Nasionale Liga (NL) se Westelike Divisie (NL-Wes). Die span speel hul tuiswedstryde by Petco Park (2004-teenswoordig).[3] Die Padres is in 1969 gestig as 'n uitbreidingsfranchise. Die span se naam, Spaans vir "vaders", verwys na die Spaanse fraters van die Franciskanerorde wat San Diego in 1769 gestig het. Die Padres word besit deur die boedel van Peter Seidler, wat die span van 2012 tot sy dood in 2023 besit het.

Die eerste eienaar van die span was die prominente San Diego-sakeman C. Arnholt Smith. Die Padres is een van twee MLB-franchises in Kalifornië wat oospronklik van die staat afkomstig is. Die span het in 1984 en 1998 twee Nasionale Liga-wimpels gewen, maar in beide jare voortgegaan om die Wêreldreeks te verloor; Die Padres is die oudste span wat nog nooit die Wêreldreeks kon wen nie. Met ingang 2023, het die Padres 17 wenseisoene in die franchise se geskiedenis beleef. Die Padres was een van agt uitbreidingspanne in die 1960's, en was die laaste span van die agt om die uitkloprondtes te bereik. Ten spyte daarvan dat die Padres vier keer van 2005 tot 2022 die uitkloprondtes bereik het, het die span sedertdien nog nie teruggekeer na die Wêreldreeks nie.

In 1976 was Randy Jones die eerste spanlid van die Padres om die Cy Young-toekenning te wen. In die 1980's het Tony Gwynn 'n groot ster geword en agt Nasionale Liga-kolfkampioenskappe gewen. Onder bestuurder Dick Williams het die Padres hul eerste NL-wimpel beklink, maar uiteindelik teen die Detroit Tigers in die 1984-Wêreldreeks verloor. In 1995 het Kevin Towers die hoofbestuurder geword; onder sy leiding het Ken Caminiti die eerste Padres-speler geword wat die MVP-toekenning gewen het. Die Padres het hul tweede NL-wimpel onder Trevor Hoffman beklink, maar is uiteindelik deur die New York Yankees in die 1998-Wêreldreeks verslaan.

Die Padres se algehele rekord van 1969 tot 2023 is: 4,034 wedstryde gewen, 4,648 wedstryde verloor en 2 wedstryde gelykop gespeel ('n wenpersentasie van .465).[4]

  1. Cassavell, AJ (9 November 2019). "Padres unveil new uniforms: 'Brown is back'". Padres.com. MLB Advanced Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Januarie 2021. Besoek op 10 November 2019.
  2. Landers, Chris (11 Februarie 2020). "Feast your eyes on each uniform change for '20". MLB.com. MLB Advanced Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Januarie 2021. Besoek op 2 Maart 2020. After nearly three decades in various forms of navy blue, San Diego is going back to its roots -- while also looking forward, updating its classic look with a shimmering gold that pops against a deep, rich shade of brown.
  3. Hul vorige tuisveld was San Diego-stadion (1969–2003), wat van 1967 tot 1980 bekendgestaan het as San Diego-stadion, Jack Murphy-stadion van 1980 tot 1997 en Qualcomm-stadion van 1997 tot 2017.
  4. "San Diego Padres Team History & Encyclopedia". Baseball-Reference. Besoek op 3 Oktober 2021.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in